DF-Hokkie groei van krag tot krag

Op Maandagoggend 19 Junie is `n seremonie om die terrein aan die kontrakteur, wat die hokkiepaviljoen gaan oprig, by DF Malan oorhandig. Die
projek behels `n dakkonstruksie op die huidige paviljoen. Dit sal ouers en ondersteuners skuiling bied teen die son en reën. Die koste verbonde aan die
projek is R 250 000 en dit behoort teen die einde van die Julie-vakansie afgehandel te wees.

DF spog met ‘n ryk geskiedenis van hokkieprestasies. Daar is tans 20 provinsiale spelers in DF Malan en die skool het al spelers soos Farah
Fredericks (SA o.18 en SA dames), Simoné Strydom and Chrissie Haupt (SA o.18 en Jeug Olimpiese Spele), Johann Wentzel (WP o.21 Mans), Jean de Kock (NW o.21Mans) and Corné Pauw (NW o.21 & Senior Mans) opgelewer.

Die sport groei ook binne die skool, met 320 leerders wat hokkie beoefen. DF bied ook ‘n somerliga aan waar gemengde spanne (van geslag en
ouderdom) teen mekaar speel, ongeag van die sport wat hulle amptelik vir DF speel. Alle dogters-doelwagters binne DF woon ‘n doelwagterskliniek wat deur
Simon Mason (olimpiese doelwagter vir Brittanje) aangebied is, by.

Me. Rona Roelofse bied saam met DF die jaarlikse Nasionale Hokkiekursus aan waar spanne van oral in die land deelneem. Hierdie jaar is die
15de kursus aangebied met 40 spanne wat deelgeneem het. Beide die Hokkie 5’s (tydens vakansies) en die o.14-hokkiekursus is ook baie gewild, met 36 spanne wat verlede jaar deelgeneem het.

DF glo dat die hokkiepawiljoen net nog ‘n stap na die hokkiesukses van die skool sal wees.

Foto (van links na regs):
mnr. Theo Coetzee (Struktuur-ingenieur - TCCE Consulting), mnr. Sias Conradie (Skoolhoof), Japie Lambrechts (Hoofkontrakteur - iPM Konstruksie) en mnr. Peet van Biljon (Argitek - Van Biljon Barnado Argitekte).

 

 

Gepubliseer: 2017/06/23 - 10:19