DF Malan Gholfdag

Op Donderdag 15 Maart het 144 spelers ‘n winderige dag getrotseer en aan die skool se gholfdag te Bellville Gholfklub deelgeneem. Nie net het elke speler ‘n geskenksakkie ontvang nie, maar is ook bederf met pizzas en boereworsrolle op die baan wat deur Café Chameleon en PnP Willowbridge geborg is.  Die manne kon ook die dag se stof afwas met ‘n heerlike Stellenbrau craftbier op die 19de putjie.

Ten spyte van die wind is daar goeie tellings aangeteken en Ian Cooper en Roland Beck het as wenners geseëvier met n telling van 50 punte.

Die waarde van die geluktrekkings en pryse wat op die aand aan spelers oorhandig is, het nie minder nie as R150 000 beloop!   Elke speler het weggestap met ‘n prys en Jas du Preez was die gelukkige wenner van ‘n Weber. Die Siemens-wasmasjien is deur De Villiers Swart gewen.

Die Broers het vermaak verskaf gedurende die aand en daar het ‘n heerlike ontspanne en vrolike atmosfeer geheers. Toks van der Linde het weer sy absolute alles gegee en die DF-ouers en ondersteuners aangespoor vir ‘n rekordopbrengs tydens die veiling. In totaal is net meer as R200 000 met die gholfdag ingesamel.

Nogmaals dankie aan Tafelberg Meubileerders wat as hoofborg vir die dag opgetree het en Siemens en Weber wat saamgespan het om die pryse vir die gelukstrekking te borg. Ons wil ook graag elke speler, putjieborg, borge van pryse, veilingsitems en geskenksakitems bedank vir jul bydrae tot die ongelooflike sukses van ons gholfdag vanjaar.  Opregte dank ook aan elke leerder en ouer wat die gholfdag ondersteun het deur die skenk van pryse en aankoop van lootjiekaartjies.

Dit was voorwaar ‘n gholfdag wat terdeë deur al die spelers geniet is en wat nog lank onthou sal word deur ‘n ieder en ‘n elk wat in die dag gedeel het.

 

Gepubliseer: 2018/03/20 - 14:46