Dink of Sink 2018

Hoërskool DF Malan het op 18 Mei 2018 die jaarlikse debatskompetisie, Dink of Sink, aangebied. Die aand was, soos altyd, 'n reusesukses. Die kompetisie het reeds die middag begin met meer informele debatte wat in onderskeie klasse plaasgevind het en die semi-finale en finale het tot in die aand aangegaan. Die aand het eers stadig begin, maar nadat Kaleidoskoop die gehoor vermaak het met hulle pragtige liedjies en almal een (of drie) koppies heerlike Boston-koffie gehad het, het die aand spoed opgetel en teen die einde het die gehoor ook aan die vurige debatte deelgeneem. Die onderwerpe van die aand was almal interessant, maar die laaste debat is beslis een wat ek nooit sal vergeet nie. Wanneer DF se briljante seniorspan in 'n finaal moet debatteer oor 'n kontroversiële onderwerp kan dinge net interessant wees! Alhoewel ons debatteerders nie gewen het nie, kan ons steeds trots wees op hulle. Hulle het 'n passie in my wakker gemaak en ek het tot na middernag met my ouers daaroor gepraat! Ek sien sommer uit na volgende jaar se Dink of Sink na aanleiding van hierdie een…

Julia Roelofse

Gepubliseer: 2018/05/24 - 12:11