Hoërskool DF Malan Nuus

DF Malan het ‘n trotse koorgeskiedenis en ons huidige koor doen goed gestand aan dié nalatenskap. In die afgelope wintervakansie het die DF-koor deelgeneem aan die wêreldkoorspele gehou te Tshwane en ‘n goue diploma verwerf vir hulle optrede, asook ‘n algehele vyfde plek in die ope kategorie vir gemengde kore. Dit besorg hulle outomatiese toelating tot die kampioen-kategorie in die 2020 spele te Vlaandere, België. Onder die bekwame leierskap van koormeester Adrian More en Liza-Maré Coetzee het die Dee-Effers een en almal bekoor en was die internasionale gaste gaande oor hulle!

Gepubliseer: 2018/07/25 - 14:53

Ashleigh Maart (graad 11) is ‘n  leerder wat vanaf ‘n baie jong ouderdom  ‘n passievolle danseres is. Sy het in September 2017, vir die derde keer sedert 2013 vir SA-kleure gekwalifiseer om in Kroasië by die Wêreld Finale Hip Hop-kompetisie met haar dansgroep, Basic Black, te dans. Die kompetisie is vanaf 19 Mei – 30 Mei in Porec  Kroasië aangebied .

Basic Black het stof in die ander 27 kompeterende lande se oë geskop deur ‘n eerste plek te verower en ook die titel as die Wêreldkampioene  2017/2018 ontvang.

Ashleigh het al Suid-Afrika in Kopenhagen, Denemarke  en in Rimini , Italië, verteenwoordig! Sjoe, Ashleigh! DF is trots op jou! Baie geluk met jou puik prestasies.

Gepubliseer: 2018/07/25 - 13:17

Elke jaar bied die JSE ‘n beleggingskompetisie aan waartydens leerders deur die koop en verkoop van aandele teen mekaar deelneem. Die kompetisie word in 3 portefeuljes geloods, naamlik “Income” (Lae risiko beleggings), "Equity" (aandeelbeleggings) en "Speculator" (hoërisiko-beleggings). Die kompetisie strek van Maart tot September. Die hoofkompetisie word onderverdeel in 6  maand-kompetisies. Vir die maand Junie / Julie het die DF-groep (MJJJ) gewen. Hul het ‘n gemiddelde groei van 8,5 persent oor hierdie tydperk gehandhaaf.

Die groep bestaan uit Marle Cooper, Julia Roelofse, Jessica Smith en Jaco Wagenaar.
 

 

 

Gepubliseer: 2018/07/25 - 11:50

Die Bloemfonteinse Opstelkompetisie is jaarliks ‘n groot uitdaging vir DF. Daar is ‘n kroon wat al jare DF s’n is, wat telkemale beleër word deur ander skole van regoor die land. In 2018 is alle pogings die nek ingeslaan en DF se leerders het vir almal gewys waar Dawid die wortels gegrawe het. Ons het met die louere weggestap. Luceel Beukes is aangewys as senior en algehele wenner, terwyl Leroux van der Merwe ‘n tweede plek behaal het. Anja van Heerden is in die vierde plek. In die junior afdeling het DF skoonskip gemaak: in die eerste plek was Ninah Müller; tweede was Suné van der Walt; derde was Solomon van der Westhuizen en in die vierde plek, Alexander Smith. Baie geluk aan dié skrywers. Julle is vir DF ‘n veertjie in die hoed!

Gepubliseer: 2018/07/25 - 11:43

Leerders van die Hoërskool DF Malan het vanjaar weer eens puik presteer in die Nasionale Taalbond Tweetaligheidseksamen.

177 Leerders van die skool het die eksamen op 16 April afgelê. In die Junior afdeling eindig Karen Vergeest (gr.10) eerste, Ila Alberts (gr.10) tweede, Renke Lorio (gr.9) vyfde en Emma Olivier (gr.8) sesde. Dee-Effers verower dus vier uit die top ses posisies landwyd! Kayla Bubb (gr.9) eindig dertiende en Ben Wiese (gr.10) agtiende.

Hierdie is voorwaar ‘n puik prestasie wat aan die leerders ‘n nuwe uitdaging bied om volgende jaar te oortref. Tweetaligheid is beslis ‘n saak van erns by die Hoërskool DF Malan!

Foto:
Agter (v.l.n.r.): Kayla Bubb, Karen Vergeest en Ila Alberts.
Voor (v.l.n.r.): Emma Olivier, Ben Wiese en Renke Lorio.

 

Gepubliseer: 2018/07/25 - 10:33

JP Weideman

Gepubliseer: 2018/07/24 - 13:53

Die DF Toerorkes het tydens die jaarlikse WindWorx Fanfare behoorlik met die louere weggestap deur ‘n Hoogste Lof-toekenning in die gevorderde kategorie in te palm, terwyl die DF Blaasorkes ‘n Lof-toekenning in die Intermediêre kategorie ontvang het. Beide orkeste is ook genooi om tydens die Fanfare se Galakonsert op te tree – ‘n eer wat net uitgesoekte orkeste te beurt val!

Om DF se puik Blasers in lewende lywe te sien, word almal hartlik uitgenooi na die openingskonsert van die jaarlikse Nasionale Horingsimposium wat op 8 Junie in DF se skoolsaal plaasvind. Buiten DF se blaasorkes sal musikante vanuit die uithoeke van SA, asook van die buiteland aan die konsert deelneem. 'n Spesiale hoogtepunt op die program is die Konsertstuk vir vier horings en orkes, begelei deur die WindWorx Simfoniese blaasensemble onder leiding van die Belgiese dirigent, Rik Ghesquire.

Ons wil alle leerders, ouers en vriende graag uitnooi om hierdie konsert by te woon. Nie net sal die musikale Dee-Effers in aksie te sien wees nie, maar die gehoor sal ook 'n rare geleentheid hê om die bogenoemde werk aan te hoor wat die meesterlike vaardigheid van die horingsolis ten toon stel. Kaartjies kos slegs R30 en sal by die deure beskikbaar wees. Ons hoop om julle almal daar te sien!

Gepubliseer: 2018/05/25 - 10:10

Hoërskool DF Malan het op 18 Mei 2018 die jaarlikse debatskompetisie, Dink of Sink, aangebied. Die aand was, soos altyd, 'n reusesukses. Die kompetisie het reeds die middag begin met meer informele debatte wat in onderskeie klasse plaasgevind het en die semi-finale en finale het tot in die aand aangegaan. Die aand het eers stadig begin, maar nadat Kaleidoskoop die gehoor vermaak het met hulle pragtige liedjies en almal een (of drie) koppies heerlike Boston-koffie gehad het, het die aand spoed opgetel en teen die einde het die gehoor ook aan die vurige debatte deelgeneem. Die onderwerpe van die aand was almal interessant, maar die laaste debat is beslis een wat ek nooit sal vergeet nie. Wanneer DF se briljante seniorspan in 'n finaal moet debatteer oor 'n kontroversiële onderwerp kan dinge net interessant wees! Alhoewel ons debatteerders nie gewen het nie, kan ons steeds trots wees op hulle. Hulle het 'n passie in my wakker gemaak en ek het tot na middernag met my ouers daaroor gepraat! Ek sien sommer uit na volgende jaar se Dink of Sink na aanleiding van hierdie een…

Gepubliseer: 2018/05/24 - 12:11

Gedurende die laaste kwartaal van 2017 het Nicola Steyn (graad 8) aan 'n streekskompetisie, Talent Africa, deelgeneem. Dit is 'n kompetisie vir die uitvoerende kunste (onder andere sang, dans, instrumente, drama en modelwerk). Tydens die langnaweek in April was sy in Port Elizabeth om die Wes-Kaap te verteenwoordig in sang en dans en het 5 silwer medaljes daar verwerf vir Sang ("Open" en "Pop") sowel as Dans ("Lyrical" en Jazz).

Sy het aan die kompetisie deelgeneem, omdat dit vir haar 'n lekker uitdaging is en omdat sy al vandat sy kan onthou, 'n passie vir sing en dans het, sê sy.

Baie geluk, Nicola. Ons sien groot dinge aan die kom vir jou.

Gepubliseer: 2018/05/23 - 12:00

Twee bekende DF-gesigte is tans te sien in die Kunstekaap-produksie, "The Sound of Music"! Barry Vorster (gr. 12) en Michiel Bester (oud-leerder) vorm deel van die geselskap van dié gesogte musiekblyspel. Moenie die kans om hulle in aksie te sien, misloop nie! Break a leg, manne!

Gepubliseer: 2018/05/17 - 12:06

Pages