JP maak opgang in die wêreld van multisport

JP neem al van sy laerskooldae af deel aan Biathle (hardloop-swem-hardloop, aanmekaar) en Biathlon (hardloop en dan later daarna swem), waar hy verskeie kere provinsiale kleure verwerf het vir deelname.  Dit was egter eers einde verlede jaar dat JP begin naam maak het deurdat hy op die Suid-Afrikaanse Biathle kampioenskappe in George, gekroon is as die Suid-Afrikaanse kampioen in die o.17-ouderdomsgroep. Hy word dan ook opgeneem in die South African Modern Pentathlon Association (SAMPA) se span vir die wêreldkampioenskappe wat in September 2017 in Spanje plaasgevind het. By die Wêreldkampioenskappe wen hy en sy SA spanmaat, Karla Grobler, dan ook die goue medalje in die gemengde aflos, terwyl hy ‘n 9de plek behaal in die individuele item.

In Januarie hierdie jaar, besluit JP vir die eerste keer om aan driekamp (triathlon) te begin deelneem. Sy eerste driekamp deelname, die Discovery Triathlon in Kaapstad op 11 Februarie, is egter een wat hy eerder sal wil vergeet. Na ‘n baie goeie swem waar hy tweede uit die water kom, kry hy ‘n pap wiel binne die eerste kilometer van die fietsry been, wat dan ook die einde van sy deelname vir die dag beteken.

Op daardie stadium was die enigste oorblywende byeenkoms waaraan hy kon deelneem om moontlik te kwalifiseer vir deelname aan die Suid-Afrikaanse Driekampkampioenskappe, die Xterra Lite byeenkoms wat op 25 Februarie plaasgevind het. JP het 3 jaar voor hierdie byeenkoms laas op ‘n bergfiets gery, maar moes noodgedwonge sy bergfiets afstof, wiele pomp en oë toeknyp en die “cross-triathlon” aanpak. JP eindig op die einde van die dag algeheel in die sewende posisie uit ‘n totaal van 664 deelnemers en hy wen dan ook die 17 jaar en jonger kategorie – nie sleg vir ‘n eerste (voltooide) driekamp nie!

JP se merkwaardige prestasie in die Xterra Lite lei daartoe dat hy opgeneem word in die Cape Town Unicity Triathlon (Wes-Kaap) span vir deelname aan die Suid-Afrikaanse Driekampkampioenskappe. Op die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe op 17 Maart by Maselspoort, Bloemfontein eindig JP in die brons posisie in die Junior 16 -17 jaar ouderdomsgroep.

Steeds is dit egter nie die einde nie en word JP na sy suksesvolle SA kampioenskappe opgeneem in die driekamp Suid-Afrika span wat op 21 April in Morokko aan die Afrika-kampioenskappe deelneem. Op hierdie byeenskoms eindig JP algeheel sesde in die Junior 16 - 17 jaar ouderdomsgroep.

JP word verder ook gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig by die Fyn ITU Multisport Wêreldkampioenskappe wat die pas afgelope skool vakansie in Denemarke plaasgevind het. Gedurende die kampioenskappe het JP aan twee wedlope deelgeneem. In die “Cross Triathlon” (swem, bergfiets en “trail”-hardloop) behaal hy ‘n 16de plek in die junior kategorie (16-19). Deur sy deelname hier word Junior Proteakleure vir Cross-Triathlon aan JP toegeken. JP neem ook aan die Aquathlon deel in die 16-19 jaar ouderdomsgroep waar hy ‘n 6de plek behaal. Wat JP se prestasies merkwaardig maak, buiten die feit dat hy maar nog slegs 5 maande lank die sport beoefen, is dat hy ten tyde van deelname slegs 16 jaar oud was en vir die volgende twee jaar steeds in die Junior kategorie kan deelneem.

Op 23 Junie, net voor die skoolvakansie, het JP ook aan die SA Biathle kampioenskappe deelgeneem, waar hy met die o.19 SA titel weggestap het en hy weer in die SAMPA-span ingesluit is vir die Biathle wêreldkampioenskappe wat in Oktober in Egipte sal plaasvind.

Nie net blink JP uit in multisport nie, maar hy het ook nog tussendeur deelgeneem aan die Junior Nasionale swemkampioenskappe in Durban gedurende Maart maand. Gedurende die MTBS atletiekbyeenkoms het JP ook vir DF Malan maksimum punte behaal deur die 3000m vir onder sewentiens gemaklik te wen. JP het verder ook tot voor sy vertrek na Denemarke DF Malan se premier hokkiespan verteenwoordig.

JP se kort tot medium termyn doelwit is om ook sy Junior Proteakleure te verwerf vir standaard (pad) driekamp en SA te verteenwoordig in die groter Junior Europese Driekamp-kompetisies. Sy groot ambisie is om Suid-Afrika op die Olimpiese Spele in die driekamp te verteenwoordig.

JP glo en leef die beginsel dat talent jou net so ver bring in die lewe, maar dat toewyding en harde werk oor ‘n tydperk beloon sal word.

Gepubliseer: 2018/07/24 - 13:53