Marga van der Linde

Die 16-jarige Marga van der Linde was in 2017 een van die top 100m hekkiesatlete in Suid Afrika, al was sy 2 jaar te jonk vir die o.18-ouderdomsgroep.  Laat in 2017 het sy haar afrigter gevra om haar voor te berei vir ‘n heeltemal nuwe item: Sewekamp. Sewekamp is ‘n Olimpiese en Kampioenskapsitem waar vroue-atlete binne 2 dae aan 7 items moet deelneem en punte verdien vir hul prestasies. Die atleet met die hoogste punte na die 7 items, is die wenner.

In Januarie vanjaar het Marga aan haar eerste Sewekamp deelgeneem en gekwalifiseer vir die WP Senior Atletiekspan om deel te neem aan die SA Kampioenskappe. Marga het Woensdagoggend saam met die WPA Seniorspan na Pretoria (TUKS) gevlieg en op Vrydag en Saterdag aan die Nasionale Kampioenskappe deelgeneem. Die 12 beste Sewekampatlete het in die  o.18-ouderdomsgroep deelgeneem. Op dag 1 van die kompetisie het Marga aan 4 items deelgeneem en in al 4 items persoonlike beste en seisoen-beste-prestasies opgestel. Dag 2 was vir al die atlete moeiliker, want die dag het begin met verspring, terwyl dit gereën het. Uiteindelik was Marga se 2de Sewekamp van haar lewe agter die rug en het sy 5de in Suid-Afrika (meisies o.18) geëindig met ‘n puntetotaal van 4290. Haar puntetotaal in die 5de plek was die beste van al die Sewekamp-atlete in die WP-span (en selfs beter as die derde plek wenner van die Senior Vroue-ouderdomsgroep). Na die Sewekamp berei Marga haar nou volstoom voor vir die SA Junior Kampioenskappe waar sy aan haar spesialis-item (die 100m hekkies) gaan deelneem.

Gepubliseer: 2018/03/20 - 09:20