Zambië 2017

Tydens die Julie-vakansie onderneem 9 leerders, onder leiding van me. Celeste Wepener en me. Nadine Botes, die jaarlikse uittog na Zambië vir die gemeenskapsavontuur 2017. Die groep vertrek op 28 Junie en besoek die Foundation for Cross Cultural Education se gemeenskapsopleidingsentrum in Koti Ni Eden en die Masaiti provinsie van Zambië. Hier word die leerders blootgestel aan die verskeie projekte in die gemeenskap en sit hand by waar nodig. Hulle besoek ook die skool op die perseel en spandeer tyd saam met die leerders wat uit die "villages" in die omgewing die skool bywoon.

Die groep slaap in tente op die kampterrein en maak hulle hande vuil deur hand by te sit in FCE se kwekery, verskeie bouprojekte, die kombuis van die opleidingsentrum, die kliniek en die houtwerkfabriek. ‘n Hoogtepunt van die kuier is die oorslaap by vriende van FCE in die "village". Dit is jaarliks ‘n ware unieke geleentheid! Leerders geniet ook die interaksie met die diversiteit van mense wat voltyds of deeltyds dien by die opleidingsentrum.

Tydens die terugtog doen die groep by die Victoria waterval aan en het die opsie om ‘n paar avontuuraktiwiteite aan te durf.

Hierdie uitstappie is ‘n uiters leersame geleentheid wat ten doel het om Dee-Effers te ontwikkel tot ware lede van "’n gemeenskapskool wat ‘n wêreldse verskil wil maak".

Gepubliseer: 2017/06/06 - 09:57