|
Welkom
by die Hoërskool DF Malan - die hoërskool
vir jong volwassenes - se webbladsy.
Ek glo dat u, deur
hierdie blad te bestudeer, meer omtrent ons unieke skool
te wete sal kom.
Die Hoërskool DF Malan is 'n openbare skool wat
daarna streef om wêreldklasonderrig en -opvoeding
aan sy studente te bied. Ons streef daarna om ons studente
vir die wêreld buite die skool voor te berei en
daarom plaas ons nou reeds baie verantwoordelikhede
op hulle skouers.
DF Malan is 'n sterk akademies gerigte skool, omdat
ons glo dat kennis die een kommoditeit is wat nooit
van enige individu weggeneem kan word nie. Oor die jare
handhaaf die skool skitterende akademiese uitslae in
die Senior Sertifikaateksamen van die Wes-Kaap.
Dit is egter nie net op akademiese gebied wat DF Malan
presteer nie. Ons beskou onsself as 'n goed gebalanseerde
skool waar akademie, sport en kultuur ewewigtig met
mekaar skakel om aan al ons studente die geleenthede
te bied om hul volle potensiaal te verwesenlik.
Ten spyte van onsekerheid in die huidige onderwyssituasie
in Suid-Afrika, staan die Hoërskool DF Malan met
sy personeel, studente en ouers as 'n baken van hoop
en vertroue in die onderwys en in die toekoms van ons
land. Die Hoërskool DF Malan probeer 'n verskil
maak: nie net in mense se lewens nie, maar ook in die
gemeenskap en wêreld waarin ons as Dee-Effers
beweeg.
Alles wat ons doen, word getoets aan ons visie van
'n hoërskool vir jong volwassenes. As personeel
probeer ons aan ons studente vlerke gee waarmee hulle
kan vlieg, maar ook standvastigheid om vasgeanker te
bly aan die waardes en beginsels wat universeel van
die goeie en regte is.
Ons stem heelhartig met John F. Kennedy saam as hy
sê:
"Our task is not to fix the blame for the past,
but to fix the course for the future."
Die Skoolhoof
|