MTBS is ‘n groot sportbyeenkoms wat jaarliks plaasvind tussen Hoërskool DF Malan, Hoërskool Tygerberg , Hoërskool Bellville en Hoërskool Stellenberg. MTBS is egter nie net iets wat een naweek per jaar gebeur nie, maar ‘n gebeurtenis waar leerders die positiewe beginsels wat aangeleer word tydens die voorbereiding, tasbaar ervaar vir die res van die jaar en herinneringe skep vir ‘n leeftyd!
DF Malan het die voorreg gehad om hierdie jaar, tydens MTBS se 30ste bestaansjaar, as gasheer op te tree. Dit is egter nie iets wat ‘n skool op sy eie kan aanpak nie, maar is ‘n spanpoging waar talle belanghebbendes saamwerk om ‘n reuse sukses van hierdie skouspelagtige geleentheid te maak!
Ons wil graag dankie sê aan elke leerder, atleet en onderwyser van hierdie 4 skole. Dankie vir julle hart, passie en harde werk! Dankie aan elke beampte en elke leerlingbeampte wat op hierdie twee dae diens gedoen het om te sorg dat alles seepglad verloop! Aan ons borge, MTN South Africa en Nashua Cape Town – sonder julle groothartigheid sou ons nie hierdie byeenkoms kon aanbied nie. Ook ‘n baie baie spesiale dankie aan die merkwaardige MTBS-organiseerder, Margaret Pansegrouw wat soveel toutjies wat vasgevat en vasgehou het – ons is ewig dankbaar vir jou en jou vermoë om alles moeiteloos te laat lyk!
Dis altyd lekker om die beker huis toe te bring, DF, maar wat ons harte warm laat klop, is elke klein tikkie diensbaarheid en al die ander VRIEND-waardes wat julle in hierdie tyd geopenbaar het!
Dankie, dankie, dankie! 💙💛



